Upcoming Events

Die Bush Lapa hosts live shows throughout the year and is also the venue of George’s only music festival, Die Bush Lapa Musiekfees, every year during the December holidays. Make sure to follow us on Facebook to stay up to date on our latest events.

Bok van Blerk & Band by Die Bush Lapa

Saterdag, 27 Oktober

Meer as ’n dekade van Bok van Blerk en dis net die begin! Kan jy onthou waar jy was of waarmee jy besig was toe jy die eerste keer Bok van Blerk se “De La Rey” oor die radio hoor speel het? Moeilik om te glo, maar ons praat van 12 jaar terug, daardie oomblik toe die klank van Afrikaanse musiek verfris is en mense laat regop sit het.

Of jy nou kan onthou presies waar jy was 12 jaar terug toe jy die naam Bok van Blerk die eerste keer gehoor het of nie, een ding is ’n feit, as Afrikaner het jou bors so bietjie geswel van trots en jou hart so bietjie warmer geklop. Bok is baie beskeie oor die eer en sal altyd erkenning gee aan sy aanhangers, die mense wat hom ondersteun, wat sy musiek koop en by sy konserte opdaag, die mense wat hom gebring het Van De La Rey Tot Nou.

Bok van Blerk en sy band tree Saterdag, 27 Oktober op by Die Bush Lapa. Kaartjies is beskikbaar vanaf R100-R180 per persoon. Kontak KD by 044 851 0113 gedurende kantoorure vir inligting en/of besprekings.

Theuns Jordaan & Anton L’Amour

Saterdag, 10 November

Theuns Jordaan is sonder twyfel een van die grootste stemme wat Afrikaans nog opgelewer het. Met vyf solo-albums en verkope van meer as 1 miljoen, het hy bewys dat hy nie net ’n sanger van formaat is nie, maar ook ’n baie talentvolle liedjieskrywer.

As sanger het Theuns oor die jare bekend geword vir die gemak waarmee hy gehore vermaak. Van sagte ballades en liefdesliedjies tot op-en-wakker deuntjies wat mense op hulle stoele laat dans. Een ding is seker – Theuns weet net hoe! Hy is ook nie net ’n uitstekende vertolker van sy eie werk nie. Wanneer hy die musiek van kunstenaars soos Koos du Plessis, Johannes Kerkorrel of Koos Kombuis sing, bring hy daardie liedjies met sy eiesoortige styl na waarderende gehore. Met sy weergawe van “Beautiful in Beaufort-Wes” het hy Suid-Afrika voorgestel aan die liedjieskrywer Gert Vlok Nel en as dit nie vir Theuns was nie, het die meeste Suid-Afrikaners nooit op “Loslappie” gejol nie.

Theuns se samewerking met Anton L’Amour is een van die sterkstes in Afrikaanse musiek. Anton is nie net een van die land se beste kitaarspelers nie, hy het homself ook al bewys as ’n talentvolle musiekregisseur. Wanneer Theuns en Anton saam op ’n verhoog klim, is die gehoor verseker van musiek uit die boonste rakke. Hulle werk uitstekend saam, ken mekaar en vul mekaar aan. Saam is hulle ’n gedugte tweemanskap wat gehore oor die hele land vermaak.

’n Theuns Jordaan-vertoning met Anton L’Amour op die verhoog, is een wat nie misgeloop moet word nie!

Theuns Jordaan en Anton L’Amour sal op Die Bush Lapa-verhoog wees op Saterdag, 10 November. Kaartjies is beskikbaar vanaf R100-R180 per persoon. Kontak KD by 044 851 0113 gedurende kantoorure vir inligting en/of besprekings.